EM

Wat is EM? (Effektiewe mikro-organismes)

EM is ’n multi kultuur van mikro-organismes wat natuurlik in die grond en ons omgewing voorkom Daar is gis bakterieë in, melksuur, actinomycetes en fototropiese bakterieë. Dit is alles voordelige mikrobes wat elkeen ’n besondere rol het in die grond. As ’n kombinasie hou hulle die grond gesond en ondersteun ander nuttige mikrobes wat natuurlik in die grond voorkom.

Grond is ’n lewende entiteit – daar is meer organismes in ’n hand vol gesonde grond as wat daar mense op aarde is.

Dit is dus van uiterste belang om die lewe in die grond te ondersteun en in stand te hou.

Om dit te doen gebruik ons EM.

Alle lewe is afhanklik van die volgende:

Water

Kos

Huisvesting en die regte klimaat

As een van die faktore onder druk kom, sal dit ’n effek hê op die lewe in die grond. Die uitdaging is dus om die omstandighede in die grond van jou groentetuin so te hou dat die lewe in die grond kan floreer.

Al die mikrobes lewe in simbiose met die plant se wortels. Die plant gee vir hulle kos en hulle help weer die plante deur ensieme af te skei en organiese materiaal af te breek wat voeding gee vir die plante.

Patogene in die grond
Daar is ook organismes in die grond wat siektes kan veroorsaak bv. Stamvrot, wortelvrot, blaarvlek ens. As die organismes dominant is in die grond dan is die grond siek en die plante is siek.

Deur EM  toe te dien domineer ons met voordelige mikro-organismes wat beteken dit onderdruk die patogene.

As die grond gesond is, sal jou plante ook gesond wees en vir jou ’n goeie gesonde produk lewer.

EM is ’n natuurlike organiese produk wat veilig is om te gebruik. U kan dadelik u groente of kruie eet na toediening omdat dit nie giftig is nie,  spoel dit net af met water.