Pes en Plaag beheer

As jy iets in die grond plant, sal daar een of ander pes of plaag wees wat dit aanval

DIE BEGINSEL IS: VOORSORG IS BETER AS NASORG

Die ander beginsel is: Gesonde grond het gesonde plante wat moeiliker deur peste aangeval word.

Die groot plae is: Insekte, virusse en swamme.

In die grond is ook nematodes (aalwurm) wat skade kan veroorsaak, in besonder as daar dieselfde gewas jaar na jaar in die grond geplant word. Die pes kom gewoonlik voor in sanderige grond met ’n lae organiese inhoud.

Aalwurm besmetting kan duidelik gesien word aan die wortels. As daar aalwurm besmetting is, sal die wortels van die plant uitermatige knoppe aan hê (knopwortel  aalwurm)

Daar is twee opsies van beheer.:

1.

Chemiese beheer
Hierdie moet altyd die laaste opsie wees. Daar is baie chemiese middels op die mark beskikbaar vir elke pes of plaag. As dit die laaste opsie is, moet die gebruiksaanwysings en die wagtyd na toediening streng nagekom word. Maak baie seker dat die produkte buite bereik van kinders gestoor word.
Insekdoders is nie selektief nie. Dit maak ook die natuurlike predatore van die pes dood. Spinnekoppe is gewoonlik die eerste gogga wat intrek en hulle eet baie van die skadelike insekte. Voëls soos die glasogie is lief vir plantluise. Liewenheersbesies of skilpadbesies se stapelvoedsel is plantluise. ’n Chemiese middel maak hulle ook dood.
Baie van die swamdoders is nie selektief nie en maak ook die goeie swamme en mikrobes dood. Dit moet dan aangevul word met EM om die lewe in die grond weer in balans te bring.

2.

Natuurlike organiese beheer.
Hierdie is die beste opsie, maar verg ’n bietjie meer aandag. Die beginsel is om die grond reg te bestuur. As die grond genoeg organiese materiaal bevat en die besproeiing word beheer is die saak halfpad gewonne.
Die beginsel van plant pasmaats, wisselbou, deklaag plante en strook beplanting gaan die probleem verder onder beheer bring.

Die gebruik van die EM 3 produk wat op ’n gereelde basis gespuit word, sal die beheer van die plae soveel beter maak. EM 3 is ’n natuurlike insek en swamweerder wat gemaak word met EM en gesonde vars kruie. Dit bevat gemmer, brand rissie, knoffel en swart peper wat met EM gefermenteer word om ’n natuurlike veilige produk te lewer.

Kyk uit op winkel rakke vir ander organiese insekbeheermiddels.

 

Opsommend – ’n Natuurlike tuin waar daar ’n multi kultuur van plante, diere en insekte is, is die beste en het die beste kans op sukses. Die kwaliteit van die groente en kruie is ook van die beste.