Water

                        

Alle plante het water nodig om te oorleef en optimaal te groei.

Dit gaan ook nie net oor die hoeveelheid nie, maar ook oor die kwaliteit van die water.

Suid-Afrika is ’n water arm land en ons moet goed kyk na ons water.

Besoedeling is ’n groot kopseer. Elke inwoner van Suid-Afrika moet sy of haar deel bydra om water te spaar en te sorg dat ons nie ons water besoedel nie.

Ondervinding het ons geleer dat die algemene praktyk is om te veel te gee. Baie huishoudings het ’n stelsel wat op ’n rekenaar werk. Dit word gestel om elke dag ’n bietjie water te gee.

Dit is ’n verkeerde praktyk. Dit veroorsaak dat slegs die boonste lagie nat word, die plante se wortels word lui en groei net in die boonste lagie wat gereeld nat is. As dit baie warm word, kan die plant dit nie hanteer nie, want die wortels is nie goed ontwikkel nie en kan dus nie genoeg water opneem nie.

Besproeiing moet aangepas word na gelang van seisoen en temperature.

Gee een of twee keer per week ’n goeie besproeiing sodat die grond diep nat kan word en laat dan toe om uit te droog. Dit sal die wortels forseer om die water te gaan soek en so goed & diep te ontwikkel.

In die tyd van waterskaarste word tuiniers gedwing om die grys water te gebruik. Ons weet dat die grys water sekere stowwe soos seep en ander skoonmaakmiddels bevat. Dit kan ’n negatiewe impak op die grond hê.  Om dit reg te stel kan EM op ’n gereelde basis gebruik word.

Deklaag of molm laag: Deur die grond te bedek met ’n molm laag van kompos of ander organiese materiaal, sal dit verdamping keer, die grond koeler hou en die watergebruik verminder.